400 Jaar van stilte

Vierhonderd Jaar van Stilte

in die Bybel…

                                                                                   

 

 

 

19 Februarie 2019

 

 

 

 

 

 

 

Dr. Eddie Harvey

M64, Huis Herfsblaar

Webbstraat 1244

Queenswood

Pretoria, 0186

ewharvey@lantic.net

 

 

 

 


 

1.    Inleiding

Ons as gelowiges weet oor die algemeen min oor die tydperk van ongeveer 400 jaar tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. In al my jare as kerklidmaat is daar nooit daarna verwys nie, maar die tydperk het my al hoe meer geïnteresseer. ‘n Studie hiervan het my laat besef dat kennis van dié tyd ʼn mens help om sekere Nuwe -Testamentiese gebeure beter te verstaan.

Die historiese vertelling van die Ou Testament eindig met Esra en Nehemia in die vyfde eeu v.C. Die vertellings van die Nuwe Testament begin min of meer 400 jaar later met die geboorte van Jesus Christus.

Wat het in hierdie tussen-testamentêre tydperk gebeur?  Watter historiese verskuiwings,  godsdienstige en politieke ontwikkeling het gedurende hierdie tyd onder die mense van die  Judese land plaasgevind? Watter boeke is geskryf en hoekom is hulle nie in die Bybel opgeneem nie en watter boeke is wel opgeneem? Wat was die mesiasverwagting van die Judeërs? Die meeste van ons kennis oor hierdie tydperk kom egter uit buite-Bybelse bronne. Die skrywes van die historikus, Josephus, en van die Makkabiërs is van die belangrikste bronne oor hierdie tyd.

 

2.    Die oorgang

Die boek, Maleagi, die laaste boek in die Ou Testament, eindig met die ontstellende uitspraak: “Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom,die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.” Maleagi 4: 5 en 6.

Die boek, Matteus, open met die verrassende nuus: “Sy (Maria)sal ‘n Seun in die lewe bring, en jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal bevry.” Matteus 1: 21.

Wat alles het in die tydperk tussen die twee uitsprake gebeur?

 

3.    Historiese verloop

Wanneer ons die 400 jaar van stilte betree, vind ons die Mede en Perse in beheer van die bekende wêreld – sover die Ou Testamentiese rekords. Ontwikkelinge ná die jaar 538 v.C., toe sommige Judeërs met die seën van Kores, die koning van Persië, uit Babel teruggekeer het, vorm die agtergrond waarteen baie van die gebeure gedurende hierdie tydperk verstaan moet word.

Die Griek, Aleksander die Grote (356-323 v.C.), het binne enkele jare feitlik die hele bewoonde wêreld van destyds, waaronder Palestina, aan hom onderwerp. Van toe af is die Griekse beskawing oor die hele gebied uitgedra. Die Griekse leefwyse was gewild by baie mense. Een van die mees ingrypende gebeurtenisse vir Judaisme was die ontheiliging van die tempel deur die Griekse generaal, Antiogus IV Epifanes in 167 v.C. Die Joodse vakansiedag, Hanukkah, vier die herstel van die Joodse aanbidding by die tempel in Jerusalem in 164 v.C. nadat Judas Makkabeus die tempel van al die afgode gewy aan Griekse gode en godinne, gesuiwer het.

Die Griekse oorheersing van die  wêreld staan bekend as hellenisering en is van groot belang vir die verspreiding van die Evangelie.  Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf wat die verspreiding van die Christelike boodskap in die eerste eeue bevorder het.

Na Aleksander se dood het verskeie nasies oor Palestina regeer: die Egiptenare, Makkabeërs, Hasmoneërs, Partiane en die Edomiete.

Teen die jaar 128 v.C. kon Johannes Hirkanus die Hasmoniese ryk vestig – die eerste eie Joodse staat sedert die val van Jerusalem in 586 v.C.

Gedurende die Hasmoneërs se bewind, wat tot 105 v.C. geduur het, het die Fariseër- en Sadduseërpartye ontstaan en het die spanning tussen Judeërs en Samaritane toegeneem.

In 63 v.C. verower die Romeinse generaal, Pompeius, Palestina. Die Romeine was die laaste koninkryk wat Palestina teen die einde van die 400 jaar van stilte geregeer het.

Wat vir ons as Nuwe-Testamentiese kerke van besondere belang is, is dat Herodes, ʼn Edomiet en dus nasaat van Esau, deur die Romeine as regeerder oor Judea en Galilea aangestel is. Hy was van 37 v.C. tot 4 v.C. aan bewind. Herodes (die Grote) herbou die tempel, bou ʼn paleis vir homself, en lê die stad Sesarea aan.

Die Sadduseërs het hulle by Herodes geskaar, terwyl die Fariseërs hom as koning verwerp het. Die godsdienstige leiding van die volk het toenemend die verantwoordelikheid van die rabbi’s geword.

Teen die einde van sy regering het daar ʼn nuwe versetbeweging teen Herodes ontstaan, naamlik die Selote. Met al die teenstand teen hom en sy eie agterdog teen die Jode, kan mens verstaan dat hy Jesus as ʼn bedreiging gesien het en verantwoordelik was vir die kindermoord in Bethlehem. Die boek Matteus begin met die geboorte van Jesus in die dae van hierdie Herodes.

 

4.    Die Joodse godsdiens gedurende die vierhonderd jaar van stilte

Teen die einde van die Ou Testamentiese periode was Israel steeds onder beheer van die priesterdom wat al hoe meer wêrelds geraak het. Wanneer ons die Ou Testament toemaak en Matteus oopmaak, is niks meer dieselfde nie. Die godsdienstige orde van die dag was Fariseërs, Sadduseërs, skrifgeleerdes en sinagoges, waarvan geen melding in die Ou Testament gemaak word nie.

Die Sadduseërs het tydens die Persiese oorheersing as party ontstaan. Teen die tyd van Jesus was hulle die tradisionele regerende elite, bestaande uit die priesterlike en aristokratiese families. Hulle was hiperkonserwatief in hulle teologie, maar baie liberaal in hulle leefwyse. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament as gesaghebbend aanvaar en nie in die opstanding uit die dood geglo nie.

Die profeties-messiaanse groepering het begin uitsien na ʼn tyd wanneer God self op dramatiese wyse in die gang van die wêreldsake sal ingryp om ʼn beter bedeling te skep. Dit word ʼn messiaanse eindtydverwagting wat in hierdie tyd baie veld onder die Judeërs gewen het.

Die skrifgeleerdes was ʼn groep wat hulle in die studie van die wet van Moses verdiep het. Hulle is beskou as handhawers van die Tora en was die “regsgeleerdes” en regters in die Joodse Sanhedrin.

Die Fariseërs het uit skrifgeleerdes bestaan en het die Ou Testament as gesaghebbende Woord van God aanvaar. Hulle het die Joodse geloof teen die infiltrasie van die Hellenistiese invloed beskerm. Hulle het sitting in die Joodse Raad gehad.

Die Essene was ‘n onafhanklike Joodse beweging wat verkies het om in afsondering te leef. Hulle het hulle eie gemeenskap as alternatief vir die Jerusalem-kultus op die walle van die Dooie See gestig wat nou bekend staan as Koemran. Hulle het ‘n aantal waardevolle geskrifte nagelaat wat as die Dooie See Rolle bekend staan.

Die tollenaars was geen party nie, maar ʼn sosio-ekonomiese klas. Tollenaars of belastinggaarders is uit die plaaslike bevolking aangestel.

Hierdie groeperinge se self-geregtigheid en skynheiligheid was grootliks deur Jesus veroordeel – hulle het alles spiritueel in die Woord verwerp.

Maar ten spyte van al die depressiewe gebeure kom Kirkpatrick (P8) tot die volgende verblydende gevolgtrekking:  “As the Word promises, God always has His remnant. The same was true during the four hundred silent years. They were an afflicted people who abhorred the ways of the heathen, and they refused to follow the ways of the new religious sects. These clung devotedly to the promise of God of a Messiah. From this righteous sect would spring up the Essenes who placed Spirituality above conformity”.

 

5.    Teologiese strominge

Van die teologiese strominge het ʼn bepaalde rol in die Nuwe Testament gespeel, waarvan enkeles bespreek word.

·         Toewyding aan die Tora (die wet)

Tydens die ballingskap toe die Jode ontneem is van hulle godsdienstige simbool, die tempel, het die Tora die plek van die tempel ingeneem en is dit verabsoluteer. Sinagoges het tot stand gekom. Teen die tyd van Jesus het die Skrifuitleg ʼn mikroskopiese ontleding van die Tora geword en het Hy die skrifgeleerdes en Fariseërs se wettisistiese aanvalle ervaar, maar hulle ook skerp tereggewys (vgl. Matt. 23).

·         Die opstanding uit die dood

In die Ou Testament word daar net in enkele plekke na die opstanding uit die dood verwys. Een verwysing daarna is in Daniël 12:2 en 13, wat self uit die tydperk tussen die Testamente kom.

·         Apokaliptiek en eskatologie

“Eskatologie” verwys na die leer aangaande die eindtyd en “apokaliptiek” verwys na die visionêre openbaringe oor God se doel in die geskiedenis vanaf die begintyd tot die eindtyd. In die tyd tussen die Testamente was daar ʼn besondere belangstelling in hierdie saak. ’n Gemeenskaplike verwagting was dat God self sal ingryp in hierdie lewe waardeur ʼn tydperk van vrede en vreugde sal aanbreek. God het inderdaad ingegryp met die koms van Jesus.

·         Die messiaanse verwagting

In die Ou Testament het daar geleidelik ʼn groeiproses in die messiasverwagting plaasgevind. Die Dawidsbelofte soos in 2 Sam. 7 opgeteken, naamlik dat daar altyd ʼn Dawidsafstammeling op die troon sou sit, is die aanleiding tot die messiaanse verwagting. In die Ou Testament is daar sprake van twee heilsfigure: ʼn priesterlike en ʼn koninklike figuur. In die tyd tussen die Testamente is die koningsfiguur meestal oorheersend as die een wat die vyande verslaan en die glorie van Israel herstel.

Die vae beelde van die Messias in die Ou Testament het in hierdie tyd vorm begin aanneem. Omdat die Messias, volgens die verwagtinge van die Jode hulle van die Romeinse oorheersing sou bevry, is die gedagte van ʼn lydende kneg (Jes. 52:53) nie aan die messiasbeeld gekoppel nie. Dit was vir die Judeërs, en selfs ook vir die dissipels, moeilik om die lyding en dood van Jesus te rym met koningskap. Dit was eers ná die uitstorting van die Heilige Gees dat dit vir hulle duidelik geword het dat Jesus op ʼn radikaal ander wyse die Messias is: Hy is die Messias omdat hy ly en sterwe.

 

6.    Boeke uit hierdie tyd wat nie in Protestantse Bybels opgeneem is nie

Gedurende die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament het ʼn aantal boeke ontstaan waarna as “apokriewe boeke” verwys is, maar wat volgens Protestantse beskouing nie gesaghebbend is nie. Van die boeke is die volgende: Die Boek Barug; die Boek Judit; die Wysheid van Salomo; 1 & 2 Makkabeërs; en die Brief van Jeremia.

ʼn Sogenaamde pseudepigrafiese geskrif (ʼn geskrif onder ʼn vals naam geskryf) wat ek relevant vind, is die Testament van die Twaalf Stamvaders wat stof bevat uit die tweede eeu v.C. Dit bestaan uit twaalf sterfbedtoesprake wat die twaalf seuns van Jakob sou gemaak het. Die geskrif is die finale produk van opvattings uit die byna vier eeue rondom die geboorte van Jesus. Die boek verwag twee messiasse, ʼn priesterlike een uit Levi en ʼn koninklike een uit Juda.

 

7.    Daniël, ‘n boek wat wel in die Protestantse Bybel opgeneem is

Sommige geleerdes reken dat die boek Daniël ongeveer in 165 v.C. ontstaan het gedurende die tyd van Antiogus IV Epifanes, oor wie ons reeds geskryf het.

 

8.    Geslagregister van Jesus gedurende hierdie tydperk

Die name van Jesus se voorvaders wat in Matt.1:13-16 genoem word, is afkomstig uit die tydperk tussen die Testamente. Daar is min oor hulle bekend behalwe dat hulle in moeilike omstandighede, onder vreemde heersers en tussen vyandige bure gelewe het.

 

9.    Ten slotte

Die tyd waarvan ons so min weet, was inderdaad ʼn oorgang tussen die Ou en Nuwe Testament met ‘n ryke en fassinerende geskiedenis. Die sosiopolitieke en godsdienstige samelewing van die Nuwe Testament het sy beslag in hierdie tydperk gekry. Kennis oor hierdie tydperk plaas die koms van Jesus en sy konflikte en verhouding met die Judeërs, godsdiensleiers en Romeinse heersers in perspektief. Profesieë uit die vorige tydperke het in vervulling gegaan – die Messias het gekom soos voorspel!

 

10.  Bibliografie

Christelike Uitgewersmaatskappy 1993. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling).

Kirkpatrick, George (geen datum). Between The Testaments, The Four Hundred Silent Years. New Foundations Ministry.

Lohse, Eduard 1976. The New Testament Environment. SCM Press Ltd.

 

Gekonsulteer: Dr. Magdel le Roux, UNISA.